top of page

Ons is nooit te oud nie!

Running Up the Stairs

Toe ek vandag by die skool se hek uit hardloop het my bene maar effe broos gevoel. Dit is seker die ouderdom, het ek gedink. So paar blokke verder het ek egter baie beter begin voel en sommer besluit om my hardloop-tempo so bietjie aan te draai. En, soos gewoonlik wanneer ek hardloop, het ek begin dink…

 

    Net voor CR Swart Hoërskool het ek oor die pad gehardloop en die gedagte tref my dat ek eintlik nog voel soos ek gevoel het toe ek twintig jaar oud was – toe ek nog in Jeugsentrum gebly het. Die gevoel is seker in my kop, want ek is bykans sestig jaar oud. My lyf moes agteruit gegaan het. Maar dit het nie só gevoel nie. Indien ek binne in myself krap voel ek eintlik nog netsoos ek destyds gevoel het. Ek voel nog lus om nuwe dinge aan te pak, nuwe goed te leer en dit voel asof daar nog baie tyd moet wees om dit te doen. Om die waarheid te sê, indien ek my oë toe sou maak, sou ek my kon verbeel ek kan nog gaan studeer en aan ’n toekoms begin werk.

    Dit kan egter nie wees nie, want sedertdien het nie minder nie as 40 jaar verbygegaan en ek is in ’n heel ander tydperk in my lewe – ’n tydperk waarin baie mense begin dink aan aftree.

    Sedert ek die Comrades die eerste keer gehardloop het, het daar dus vier dekades verloop. Maar, dink ek toe, sê nou maar net ek leef nog veertig jaar, dan is ek tegnies nou waar ek was toe ek 20 jaar oud was. Hoeveel dinge het nie sedertdien gebeur nie! Ek het gestudeer, vir tien jaar ’n joernalis gewees en ’n jaar op ’n verlate eiland deurgebring. Daarna was ek ’n redakteur, ’n kunstenaar en ’n grafiese ontwerper. Ek is getroud en my eerste dogter is gebore.

    Toe ek veertig geword het, het ek ’n nuwe onderneming begin. Niemand het gedink dié spesifieke tydskrif sou werk nie, omdat dit so ’n klein niche-mark moes bedien. Tog het die onderneming gegroei en vir baie jare werk aan ’n klomp mense verskaf. In dié tydperk is twee van my dogters gebore en het al drie van hulle groot geword. Wanneer ek 60 word, is die jongste een 18. Vir my voel die tyd met my dogters soos ’n leeftyd. My oudste is 21 jaar oud en dié “leeftyd” is dus net ’n bietjie meer as twee dekades.

    Só, al haal ek nie 100 nie, maar net 80, is daar nog 20 jaar oor – ’n tyd waarin daar ’n magdom dinge kan gebeur en baie ervarings wat beleef kan word. Indien ek net dink aan al die wonderlike tye en dinge wat ek beleef het sedert die tydskrif die eerste keer verskyn het, klink dit baie belowend. 

    Maar ek haal dalk nie 80 nie. Ek kry dalk die een of ander siekte, of ’n hartaanval of enige van dié soort dinge wat mense van my ouderdom daagliks afmaai. Aan die anderkant, niemand is veilig nie… enigeen op enige ouderdom… ’n Mens is nie op 20 meer seker van ’n lang lewe as op 60 nie.

    Wat is dus die sommetje wat ek in my kop maak? Waarheen dryf ek met my gedagtes? Ek dink ’n mens kan op enige ouderdom nog leef asof jy twintig jaar oud is, asof daar nog baie is om na uit te sien en nog baie dinge is om te doen. 

    Ek loop nou die dag ’n ou kollege van my raak. Hy bly so blok van my af. Dit is Frank Loubser en hy het destyds saam met my by die Transvaler koerant gewerk. Hy het toe al ’n gryskop en gryssnor gehad. Hy lyk maar nog baie dieselfde – gryshare, grys snor en harde stem. Hy vertel my met groot entoesiasme dat hy op 77 nog elke dag werk. Hy ry soggens na Johannesburg, doen ’n dag se werk en ry dan terug. Hy wil ook nie ophou werk nie. Aftree is nie in sy woordeskat nie.

    Dit herinner my aan Oom Jan. Ek het in 1998 by hom begin werk. Hy was die hoofredakteur van die Wild en Jag-tydskrif. Ek het Oom Jan in sy vyftigs geskat en was erg verras toe sy sekretaresse my vertel hy is 68 jaar oud. Hy was toe al so ongeveer drie jaar met die tydskrif besig. Oom Jan het op 65 afgetree by die Vleisraad waar hy ’n hoë pos beklee het. Terwyl hy nog daar gewerk het, het hy die SA Wild-tydskrif as ’n “inhouse” tydskrif begin. Met sy aftrede het hy toestemming gekry om die SA Wild-tydskrif privaat verder te ontwikkel. 

    Dit was wonderlik toe ek genooi is om dié tydskrif se 20ste verjaarsdag by te woon. Oom Jan was nog die hoofredakteur, maar sy seun Hennie was toe ook al vir so drie of vier jaar betrokke. Oom Jan was egter nog die baas en op 85 was hy nog aktief en het hy presies geweet wat in sy onderneming aangaan. Oom Jan is op 87 oorlede, terwyl hy nog besig was om ’n aktiewe en vol lewe te lei.

    Baie jare gelede, toe ek nog op die skoolbanke van Wonderboom Hoërskool gesit het, het ek vriende gemaak met Louis, ’n sterk en intelligente jong seun. Na skool het die kêrel rekenaarwetenskap gestudeer Ons het baie kere saam gekuier en soms oor die lewe vorentoe gesels. Louis het baie deursettingsvermoë en lewenslus gehad en het gou opgang gemaak by sy werk. Hy is kort daarna getroud en daar is ’n paar kinders vir hulle gebore. Hy en sy vrou het geskei en is later weer versoen. Ons het grootlik kontak verloor, maar toe ek hom ’n paar jaar later raakloop, het dinge baie goed met hom gegaan. Dit was duidelik dat Louis goed gevaar het en dat hy gelukkig was.

    ’n Jaar of twee later is ek na Gougheiland vir ’n 14 maande. Kort na ek terug was in die beskawing het ek Louis se suster raakgeloop. Ek het haar dadelik oor Louis uitgevra en het toe die onstellende nuus verneem dat Louis al vir bykans ’n jaar lank oorlede is. Louis is dus reeds op 32 jarige ouderdom dood! Ai, dit was slegte nuus.

    Louis het op 18 matriek geskryf het en dus net veertien jaar van die lewe ervaar ná hy die skool verlaat het. Tog het hy twee jaar diensplig gedoen, ’n graad studeer, getrou, kinders gekry, geskei en weer getrou. Hy het ’n huis gekoop, vakansie saam met sy gesin gehou, baie by mense gekuier, en vele meer dinge gedoen in daardie kort paar jare. Vir Louis was 14 jaar dus ’n leeftyd. Ek is vas daarvan oortuig dat Louis nie spyt was dat hy dié 14 jaar geleef het nie, al was dit baie minder as wat hy verwag het. Sou hy egter geweet het dit was só min, is ek seker hy sou seker gemaak het dat elke jaar tel!

    Ons, wat ouer is, en wat weet ons jare is minder, moet dus seker maak dat ons elke jaar ten volle benut. Dit help nie ons verknies ons oor die baie jare wat reeds verby is nie. ’n Mens het soms heimweë oor die mooi tye wat verby is. Daaroor moet ons dankbaar wees, want ’n mens het net heimweë or dit wat lekker en mooi was. Ons moet dus dankbaar en bly wees oor die geluk wat ons reeds beleef het en nie toelaat dat juis dié geluk en mooi ervarings ons nou depressief laat voel nie.

    Nou die dag, op pad terug van ’n kursus wat ek by Lewende Woord bygewoon het, het ek gewonder of ek nie maar net my tyd mors nie. Die kursus is lank en ek gaan moet swot en eksamin skryf. Vir wat? Maar die lesings was interessant en dit is lekker om in ’n klas te sit saam met ander mense en oor filosofie en sielkunde en mense se gedrag te praat. Dit beur my op en laat my voel ek is nog relevant – nog deel van die lewe. Dalk gebruik ek die nuwe kennis om iets mee te verdien, of miskien net om beter met ander mense oor die weg te kom. Wie sal weet?

     Manne soos Abraham en Moses – en hedendaags, soos Chuck Missler, het hul beste werk vir die Here begin doen in die laaste deel van hulle lewens. Ek dink nie dit is verkeerd om goeie tye in 'n mens se lewe te verlang nie. Dit gee 'n mens 'n warm gevoel en dit sorg dat jy kontak hou met die mense wat jou lewe met jou gedeel het. Dit moet egter nie 'n mens depressief maak nie, of laat ophou droom nie. Viktor Frankl het in die Nazi-konsentrasie-kampe diep gedink oor die sin in die lewe (The Meaning of Life) en tot die konklusie gekom dat 'n mens iets nodig het om na uit te sien of om voor te leef. Die wedloop raak sinneloos wanneer 'n mens ophou hardloop, begin loop en stil staan. Vir verskillende mense kan dit sekerlik verskillende dinge beteken. Ons is egter Christene en ons woeker tot op die laaste dag. Ons uitdaging in die lewe is om die wenpaal te haal terwyl ons hardloop, al voel ons hoe. We are tired, we are weary, but we are never beaten. Ons wil nie na die wenpaal toe loop nie, ons wil vorentoe kyk, op ons tande byt en op die laaste lopie ons beste gee. Simon, ons pastoor, sê altyd: "The best is yet to come". Who knows? Dit kan dalk só wees!

     

    Voor ek weet het ek my roete klaar gehardloop. Ek het nog so bietjie energie oorgehad om  oor die laaste 500 m ekstra uit te haal. Dit het gehelp, want ek het ’n persoonlike beste oor dié afstand gehardloop – 8 km. My pas is nog baie stadiger as wat dit op 20 was en dalk hardloop ek nooit weer so vinnig nie, maar ek hardloop nog… en op die stadium verbeter ek nog. Oor ’n week pak my knieë dalk op, of my achilles trek… en ek moet ophou. Maar dit is volgende week. Vandag hardloop ek nog.

VOORBEELDE:

bottom of page